Familiekamp
29 September – 1 Oktober 2017

Gedurende die eerste naweek van die September skoolvakansie het 19 gesinne ‘n ongelooflike familiekamp meegemaak by Doringlaagte, net buite Montagu. Ons kon nie vir beter weer gevra het of ‘n beter ligging gekies het nie. Die kampterrein is lekker groot en die geriewe uitstekend. Ons het die kinders net gesien as hulle honger was of as iets gebloei het. Gelukkig was ons eerstehulp, Jacques, daar om seerplekke reg te dokter. Die kinders het geswem en gespeel en op die dam geroei en was saans flou gespeel.

Die res van ons het heerlik saam gekuier. Die vure het sommer soggens al begin brand en elke ou kon sy spek en eiers of wat ookal braai en dan het ons sommer gekuier tot laat in die aand, wanner dit tyd was om ‘n vleisie op die rooster te sit. Saterdagaand het ons ‘n informele potjiekoskompetisie gehou by die lapa en dit was heerlik om almal saam te kuier terwyl die potjies op die vuur was. Die manne se kreatiwiteit met die potjies het menige dames in vervoering gehad. Almal het sommer vroeg al Heinie se potbrode getakel en daar was nie eers krummels oor nie. Ek dink dis veilig om te sê dat almal se potjies wenners was, alhoewel daar baie daaroor gedebateer is.

Sondagoggend het ons saam ‘n erediens gehou en nagmaal is bedien. Anton het afgesluit met ‘n gebed en ook vir almal van ons herinner aan die belangrikheid van gemeenskap met ander gelowiges en hoe belangrik dit is vir die geestelike gesondheid van elkeen as individu en ook as gemeente.

Daar is geen twyfel dat hierdie ‘n jaarlikse instelling gaan word nie. Elke persoon by die kamp het net weer beklemtoon hoe lekker dit is om ander gemeentelede te onmoet en nuwe vriendskapsbande te vorm.