EREDIENSTE
Ons glo dat God sy kerk gereeld bymekaar bring om ons deur sy Woord en Gees te ontmoet, sodat Hy ons weer kan uitstuur om as sy mense sy wil in sy wêreld na te streef. In al ons eredienste wil ons:
- God eer deur lofprysing en aanbidding;
- mekaar aanspoor deur ons lewens te bou op die troue beloftes van God, soos die Gees dit vir ons in die Woord openbaar en deur die doop en nagmaal versterk;
- voortdurend soek na God se wil vir ons lewens en ons daartoe verbind om gehoorsaam aan Hom te wees; en
- vir mekaar, die kerk en die wêreld voorbidding doen.
Ons streef daarna om die Woord getrou te verkondig soos die Gees dit aan ons openbaar en om in ons aanbidding plek te maak vir alle mense met die besef dat alles oor God gaan en nie oor ons nie. Ons wil met vrymoedigheid en gasvryheid in ʼn plek aanbid waar enigeen kan tuis voel, net soos ons by God tuis voel.
Meer inligting oor ons eredienste word weekliks op die webwerf en in Kontak deurgegee. ʼn Preekprogram word vir die oggenddienste gevolg en dieselfde Skrifgedeeltes word by altwee dienspunte gebruik. Die preekprogram word ook vir die kategese en Bybelstudie van die groeigroepe gebruik.
Eredienste by die kerksentrum: Sondae 09:00
Hierdie diens is ʼn familiediens met ʼn spesiale tydgleuf vir kinders. Tydens dié dienste wat elke Sondag van die jaar gehou word, word ons deur ʼn musiekleier en voorsangers begelei om eietydse en Liedboek liedere as lofprysing en aanbidding te sing.
Eredienste by Curro Privaatskool: Sondae 09:00
’n Familiediens met ’n spesiale tydgleuf vir kinders. Die lofprysing en aanbidding word deur eietydse liedere en onder die begeleiding van ʼn sanggroep gedoen. Hierdie dienste vind elke Sondag van die jaar, behalwe tydens die Julie- en Desember-skoolvakansies, plaas.
Aanddiens by die kerksentrum: Sondae 18:00
Die temas en preke van hierdie diens handel oor die diep geestespad wat ons met God stap en is gepas vir alle ouderdomsgroepe. Die styl van dié eredienste is kontemporêr, met meer moderne musiek en informele preke. Voor die erediens is daar altyd ’n geleentheid vir kuier en koffie. Enigiemand is welkom om die dienste by te woon en deel van die kerk se jong volwasse gemeenskap te word.
Legato en La Vie aftree-oorde: Sondae 17:30
Eredienste word ook by die Legato en La Vie aftree-oorde aangebied. Almal wat in dié aftree-oorde woon, kan dit bywoon. Dienste word elke tweede week regdeur die jaar, behalwe tydens skoolvakansies, aangebied. Die dienste is in die formaat van ’n klassieke aanddiens.